Tyd kan naas hoogte, breedte en lengte as die vierde dimensie gesien word.
Van 'n gebeurtenis kan gesê word dat dit na 'n ander gebeurtenis plaasvind. 'n Gebeurtenis vind plek op een tydstip of moment en tyd word gesien as 'n opeenvolging van tydstippe. So kan bepaal word hoe lank een gebeurtenis na 'n ander plaasvind. Dit betref die tydsduur tussen die twee tydstippe. Tyd is die begrip waarmee hierdie volgorde en duur beskryf kan word.
Tyd volg uit die aksioom van oorsaaklikheid (ook na verwys as kousaliteit). Dit wil sê dat ons tyd alleen kan definieer as ons die bestaan van oorsaaklikheid erken, of andersom, dat oorsaaklikheid allen in terme van tyd gedefinieer kan word.
In die filosofie en taalwetenskap, spesifiek die semantiek, word tydslogika ondersoek. Dit behels formele logiese sisteme om die begrip tyd te formaliseer. In die tydmeetkunde hoef tyd nie werklik gedefinieer te word nie aangesien dit aan periodieke (byvoorbeeld astronomiese) bewegings en verskynsels gekoppel kan word. Hoewel tydsverloop ʼn daaglikse ervaring is, bly dit vir die mens 'n mistieke begrip en word dit moeilik gedefinieer.
Vir Parmenides van Elea (540-480 v.C.) het tyd byvoorbeeld geen dele, geen begin en geen einde gehad nie. Die wese of syn was vir hom ondeelbaar en tydloos. Plato (427-347 v.C.) het 'n tweeledige begrip geformuleer: 'n tydlose, volmaakte wêreld speel hom af in ʼn tydelike, onvolmaakte wêreld van sintuiglik waarneembare verskynsels. Hy het dit vergelyk met die son wat in water weerspieël word.
As die water geroer word, verdwyn die son se beeld en nie die son self nie. Aristoteles (384-322 v.C.) het die grondslag gelê vir die fisiese tydsbegrip waarby verandering of beweging 'n rol speel. Volgens hom kon 'n onderskeid gemaak word tussen die verlede, die hede en die toekoms. Tyd en beweging moet ook met behulp van mekaar gedefinieer word, want die tyd word gemeet aan die reëlmatige beweging van die hemelliggame.
Vir Augustinus (354-430) was die basis vir tyd die menslike gees en nie die natuur nie. Die verlede, die hede en die toekoms het volgens hom ook nie in die natuur voorgekom nie, en tyd het betrekking op menslike eienskappe: herinnering (memoria), waarneming (contuïtus), verwagting (expectatio). Martin Heidegger (1889- 1976) het van die stand punt uitgegaan dat bewustheid en tyd 'n eenheid vorm, want wanneer 'n waarneming gedoen word, is daar tog sprake van verlede (retensie) sowel as van toekoms (protensie).